Boogskiet is mos pret!

Waldo en pa het mekaar goed opgedreun! Amper het Waldo verloor…

Ons is nou al vir net meer as ‘n jaar besig om boog te skiet en hierdie jaar het ons aan kompetisies begin deelneem – en is dit nou lekker! Daarby presteer ons kinders elke kompetisie net al hoe beter – een van die dae is hulle onder die medaljes!

Ons skool se boogskietaktiwiteite word gereguleer deur NASP (National Archery in Schools Programme) wat reeds goed gevestig is in verskeie lande. NASP vier hierdie jaar sy tiende bestaansjaar in Suid-Afrika en daar is letterlik duisende skuts wat elke week oefen en aan kompetisies deelneem. Onlangs het spanne van Suid-Afrika, Botswana, Zimbabwe en Namibië in Windhoek bymekaar gekom en daar is hard gekompeteer! Tydens die byeenkoms is ‘n komitee aangewys wat NASP se aktiwiteite in die hele Suider-Afrika gaan koördineer – sake vorder dus nou baie vinnig…

Mnr Nico is darem Laerskool Raslouw se sporthoof, hy kon beslis nie by sy dogter afsteek nie! Nishke het egter die tweestryd gewen.

Boogskiet is ‘n uitstekende passing by ons skool! Geen groot spanne word vereis nie, jy kan deelneem al het jy pas begin en sukkel nog om die teiken raak te skiet, elke kind se vordering is duidelik meetbaar en sigbaar en laastens kan jy die sport net geniet en daarmee vorder as jy gedissiplineerd deelneem! Dit is tog ons almal se grootste wens vir ons kinders…

– mnr Pieter van der Dussen, Boogskietkoördineerder

Ons het nou hierdie kwartaal afgeskop met ‘n lekker pretdag by ons skool waar ouers en kinders saam geskiet en teen mekaar deelgeneem het. Dit het soms behoorlik uithaal en wys gekos vir die kinders om hulle ouers te wen! Sommige van die ouers het die skietery so geniet dat hulle dadelik wil begin oefen om deel te neem aan die Adult Archery Group, ‘n nuwe afdeling wat NASP ingestel het. Hierdie afdeling is juis daarop gemik om die ouers by die sport te betrek – waarlik ‘n gesinsport! As jou kind, of jyself, wil deelneem, maak nou kontak!