Nishke skiet ‘n kolskoot!

Nishke is baie trots op haar goue medalje!

Die afgelope jaar of twee neem ons leerlinge deel aan boogskietkompetisies onder die vaandel van NASP (National Archery in Schools Programme) en ons vorder baie mooi! Die afgelope naweek het daar egter ‘n besondere prestasie plaasgevind toe Nishke Basson (graad 5), nie net ons heel eerste medalje by ‘n interskole kompetisie verower het nie, maar sommer die afdeling vir laerskole gewen het! Haar telling was 277 en sy het veertien kolskote behaal. Wat die prestasie nog meer besonders maak is dat sy algeheel agste geëindig het, daar was net hoërskoolkinders hoër as sy geplaas.

Boogskietkompetisies is eenvoudig: Die teiken het tien ringe wat beteken ‘n kolskoot tel tien punte. Drie rondtes van vyf pyle elk word op 10m geskiet waarna drie rondtes op 15m volg. Dit beteken ‘n volle vlug bestaan uit dertig pyle, dus 300 punte in totaal.

Die afgelope naweek se interskole kompetisie het by Laerskool Elspark in Germiston plaasgevind en meer as 240 skuts het deelgeneem. Nishke se prestasie was hoogstaande maar ons ander skuts het ook baie goed gedoen met etlike van hulle wat genoeg gedoen het om ‘n nuwe persoonlike beste te verbeter en so klim ons skuts die leer van sukses!

Nogmaals baie geluk aan Nishke! Ons Ratels in mos #RatelTaai!