Toegangsbeheer by die skool verbeter!

Ons het laasweek die gewerskaf begin sien: Eers is die ou draadheining in die aflaaizone verwyder en toe word gate gegrawe. Later is pale geplant en toe begin die sweisery. Nou is dit amper klaar en ons aflaaizone is nou sommer baie mooier en veral veiliger!

Waar kom die baie nuttige heining vandaan? Wel, hier is waar die skool se vennootskap met ons ouers baie nuttig is: Raakvat Ouers (RVO) het aan die begin van die jaar, in samewerking met die skoolbestuur, sekere projekte geïdentifiseer wat ‘n groot verskil aan die skool se bestaan kan maak. Toe begin die groot werk: Om geld vir die projekte in te samel. Pannekoek, worsbroodjies en hamburgers is met verskeie geleenthede verkoop en groot funksies is gereël en voor ons weet waar ons is, is die geld vir die heining ingesamel. Wat aanvanklik na ‘n groot berg gelyk het, was toe eintlik net ‘n molshopie… Alles natuurlik ter wille van ons kinders!

Onthou: As ons saamwerk kan ons die werk met lekkerkry klaarkry! Baie dankie aan elke ouer wat hard gewerk het om hierdie projek moontlik te maak.