ń Heerlike vol naweek! Want ons is mos #RatelTaai…

Die afgelope Saterdag was ń baie vol dag vir ons skool! En ook ń suksesvolle dag want ons het so baie bereik tydens twee sportsoorte se provinsial kampioenskappe en dan het die ontwikkeling van ons fasiliteite nog ń tree vorentoe gegee met die begin van die konstruksie van ons splinternuwe krieketnette.

Ons begin met die Centurion Kunstefees

Jaarliks neem ons deel aan die Centurion Kunstefees en ons presteer elke jaar, selfs met kategoriewenners. Die afgelope Vrydag het ons deelname afgeskop met drie A-simbole:

  • Andri-Marié Buys en Lana Oschger (graad 7) in die gedramatiseerde prosa-kategorie.
  • Anna-Marié van der Dussen (graad 4) met voordrag.

Baie geluk aan die drie, ons weet dit is net die begin van die prestasies!

Gimnastiek se Gauteng-Noord kampioenskappe

Jani Schaap (graad 6) het deelgeneem en wonderlike resultate behaal! Sy was tweede op die balk, derde op die brug en derde algeheel. Met die besondere prestasies is sy dan ook in die Gauteng-Noord span opgeneem om later vanjaar aan die Suid-Afrikaans Kampioenskappe deel te neem.

Die klein meisie is werklik sommer net ń bielie! Dit was haar tweede provinsiale kampioenskap vir die dag, vroeër die dag het sy nog deelgeneem aan boogskiet die Gauteng-kampioenskappe (sien meer hieronder). Met boogskiet het sy nou nie medaljes verower nie maar sy het die hoogste telling van al Laerskool Raslouw se skuts behaal – steeds ń wonderlike prestasie!

Ons weet Jani gaan nog groot hoogtes bereik!

Boogskiet se Gauteng-kampioenskappe

Sedert 2017 neem Hoërskool en Laerskool Raslouw met erns deel aan NASP se boogskietkompetisies. Verlede jaar het ons die eerste keer aan die Gauteng-kampioenskappe deelgeneem en ń gevoel daarvoor gekry. Dit neem egter ń paar jaar om ń top skut te produseer en dus meet ons steeds ons vordering nie aan medaljes nie, maar aan die vordering wat ons skuts maak.

ń Jaar gelede was daar net een skut in die hoërskool wat instaat was tot ń punt van 260 of meer, hierdie jaar is daar sewe! Ons laerskoolskuts se tellings skuif ook steeds op en met elke kompetisie behaal ń paar skuts ń persoonlike beste telling.

Hierdie afgelope Saterdag se wentelling was 289 in die hoërskoolafdeling en 283 in die laerskoolafdeling terwyl die hoogtepunte by ons eie skole as volg was:

  • Dian Audie (graad 9): 275
    Dit is ń nuwe persoonlike beste vir hom asook ń nuwe rekord vir Hoërskool Raslouw. Baie geluk Dian!
  • Pieter van der Dussen (graad 10): 271
    Dit is die eerste keer dat Pieter die grens oorsteek om meer as 270 te skiet en dus ń persoonlike beste vir hom.
  • Nian Vrey (Graad 11): 260
    Ons interne kompetisie bepaal dat ń skut gepromoveer word na ons elite oranje-liga wanneer hy 260 by ń kompetisie behaal. Nian het ń baie goeie dag gekies om die prestasie te behaal, baie geluk Nian!
  • Conrad Claassen (graad 10): 249
    Conrad behaal ook sy persoonlike beste telling hierdie afgelope Saterdag. Baie geluk Conrad!
  • Charnie Theron (graad 6): 238
    Charnie was die enigste skut uit Laerskool Raslouw wat weg gestap het met ń persoonlike beste telling. Ons is trots op jou Charnie!

Daar was ook ander tellings wat hoër was as die wat hierbo genoem is maar die skuts het ongelukkig nie die lysie gemaak nie omdat hulle nie ń persoonlike beste telling behaal het nie. Ons is steeds baie trots op elke skut wat deelgeneem het!

Ons kry nuwe krieketnette

Ongeveer ń jaar gelede het ons ń nuwe verhouding begin kweek met die Harlequins Jeugkrieketklub. Sommer dadelik het hulle ń splinternuwe krieketblad vir ons geïnstalleer en sake het stadig maar seker gevorder. Hierdie jaar werk ons al hoe lekkerder saam, veral wat wedstryde en blootstelling aan die sport betref.

Die klub het egter gevoel daar is ń nuwe saak nodig om vordering met die sport nog vinniger te maak: krieketnette. Tydens die afgelope vakansie is daar gemeet en beplan en die afgelope Saterdag het ouers van die klub en die skool, asook ń paar personeellede, lekker hard saam gewerk en die eerste voorbereidings begin tref om die nette ń realiteit te maak.

Uit die netheid van die werk is dit duidelik dat hier sommer iets lekkers oppad is, iets wat ń bate vir beide die klub en die skool sal wees. Al ons krieketspelers gaan hierby baat want nette beteken dat die oefening en afrigting soveel makliker is.

ń Laaste woord

Sjoe, wat sê ń mens na so ń naweek! Dankie, dit is al wat ń mens kan sê…