Die uitstappie na die Voortrekkermonument: Wat ń ervaring!

Mnr Charlie, een van ons gasskrywers, doen soos volg verslag oor graad 4 tot 7 se uitstappie na die Voortrekkermonument:

Die groot dag waarvoor ons leerlinge al vir baie lank wag het vandag op die 22ste Augustus 2018 uiteindelik aangebreek. Nog voordat die skoolklok gelui het soadt die dag kan begin, was daar al sprankelende gesiggies op die vierkant wat gereed gestaan het om dadelik te ry. Die Graad 3’s was natuurlik baie ongelukkig en wou weet hoekom hulle nie kan saamgaan nie, maar vinnig was hulle verseker dat volgende jaar hulle beurt is!

Mnr Charlie het ook ń hele klomp foto’s van die dag geneem, kliek op die skakel om die foto’s te sien.

By die Voortrekkermonument aangekom, kom groet oom Daniël ons heel vriendelik, en stel ons gids, tannie Antoinette aan ons voor. Dadelik is die selfone, tablette en notaboekies uit en gereed om nota’s te maak. Niks is mos verniet nie, want alles wat hulle vandag leer, gaan daar oor toets geskryf word. Voordat die toer formeel afskop, moet Meneer Charlie natuurlik almal eers herinner om soet te wees, en te luister na wat die tannie alles vir ons gaan leer vandag.

Tannie Antoinette begin deur te verduidelik hoekom die Voortekkermonument gebou is, en hoe lank dit gevat het om te voltooi. Alles in en rondom die Voortrekkermonument is simbolies, en dinge kan net nie meer interessant raak as dit nie. Soos ons meer op beweeg met die trappe, lyk die uitsig oor die noorde en ooste van Pretoria al hoe mooier, en al wat mens hoor is die geluid van kamera’s soos die kinders dit afneem. Mia lees vir ons die Gelofte van Suid-Afrika, en die oorwinning van die Slag van Bloedrivier begin eweskielik meer sin te maak.

Tannie Antoinette vat ons rondom die Voortrekkermonument, en so leer ons oor die Voortrekkerleiers. Piet Retief, Andries Hendrik Potgieter, en Andries Pretorius (na wie Pretoria vernoem is). Die vierde leier is onbekend, maar so leer ons ook dat hierdie standbeeld al die leiers van daardie tyd verteenwoordig.

Kan dit waar wees dat daar items agter die hoeksteen toegemessel is? Inderdaad, en om daardie items weer daar uit te kry is om die hoeksteen te breek, en dit is mos ontmoontlik, want die hele voortrekkermonument bestaan uit graniet. Items soos die eksemplaar van Jan van Riebeeck se dagboek, ‘n afskrif van die Piet Retief-Dingaan-traktaat, ‘n afskrif van die Gelofte van 16 Desember 1838, ‘n afskrif van die Stem van Suid-Afrika en die Statebybel van mnr. Henning Klopper is alles hier toegemessel.

Soos ons na die binnekant van die Voortrekkermonument beweeg, sien ons ‘n hele groep toeriste van China, wat ook wil kom leer oor ons wonderlike en trotse geskiedenis. Later het daar ook ‘n groep van Finland aangesluit. Dit is reg, FINLAND!

Almal op die trappe voor die Voortrekkermonument – dit maak mens moeg om so baie te loop!

Binne die Voortrekkermonument is die saal waarin die friese voorkom. Dit staan bekend as die Heldesaal. Die argitek, Gerard Moerdijk het na die saal waarin die friese voorkom, verwys as die Heldesaal. Teen die mure is ‘n historiese fries aangebring wat 27 marmerpanele bevat. Dit beeld belangrike gebeure tydens die Groot Trek uit. Die leerlinge was in ekstase oor hoe pragtig en waardevol hierdie beelde op die muur is, en kon nie glo dat dit mense was wat dit met die hand gemaak het nie. Die leerlinge kon nie genoeg kry nie, en kort-kort was daar vrae oor al die gebeurtenisse wat hier tentoon gestel word. Onder by die museum was daar ‘n paar items wat die leerlinge kon sien wat in die tyd van die
Voortrekkers gebruik was in hul alledaagse lewens. Stomgeslaan is nie die woord nie, want “hoe kan mense nou oorleef met hierdie goed”. Van die ossewaens, tot die kanon, die kleredrag, selfs die wapens, is mooi agter glas gestoor. Daar is net een ding wat die kinders nog wou doen, en dit was om die trappe te klim tot heel bo in die Voortrekkermonument.

Ongelukkig het tannie Antoinette ons vertel van die reël dat kinders nie soontoe mag gaan nie, net as hulle ouers by is. Groen van jaloesie was almal toe juffrou Leandri, juffrou Michelle, juffrou Chrisna en meneer Andries die trappe gevat het tot heel bo.

Niks is so lekker soos ‘n dag vol nuwe kennis en inligting, soos ‘n kans om te kan sit, gesels, iets te eet en te drink nie. Almal het hulle kos gaan kry, en heerlik vir 20 minute gesit en rus, terwyl ander in die geskenkwinkel rondgeloop het. Dit is darem maar wonderlik om ‘n deur ‘n winkel te loop, waar alles wat daar binne is eg Suid-Afrikaans is.

Daar was nog tyd vir een stop, en dit was Meneer Andries wat die leerlinge gelei het tot by die boekwinkel. Die hele Suid-Afrikaanse geskiedenis word daar binne vertoon vir enige iemand om te sien. Dit was omtrent ‘n gesukkel om die leerlinge daar uit te kry, want net sodra ons wou loop, kom ons op die volgende interessanthede af.

Nou ja, na ‘n dag vol opwindendheid, lag, gesels en natuurlik leer, was dit tyd om te ry. Dink nou net hoe klink dit as 34 leerlinge gelyk sê “awwwwww”. Hierdie dag, was verseker ‘n dag wat almal sal onthou, en ek is seker dat hulle alklaar nie kan wag om volgende jaar weer te gaan nie.

Dankie Voortrekkermonument, die Raslouw Ratels sien julle gou weer!

Vriendelike Groete
Charles Nieuwoudt

Hieronder is twee videos wat Laerskool Raslouw se vorige hoof, mev Charmain Harmse, gemaak het oor die Voortrekkermonument. Nou kan jy sommer self ook jou kennis opskerp!
– Redaksie