Graad 4 besoek die Voortrekkermonument

C:\Users\Winsor\Desktop\IMG_1597.JPG

Want met die baken van Voortrekker stap ons steeds voort.  Hierdie woorde is vasgeketting in ons skoollied, geanker in ons harte.  Die Voortrekkermonument wat as een van die drie komponente in ons skoolwapen voorkom, dui nie verniet op die belangrikheid van ons volk se geskiedenis nie.  “Kyk tannie, die Voortrekkermonument is op ons skoolwapen!”

Onthou hoe die graad 3’s van laasjaar so ongelukkig was omdat hulle nie saam met die seniors kon saamgaan na die Voortrekkermonument nie?  Wel, hierdie jaar het Meneer Charles vir die Graad 4’s ‘n spesiale geleentheid geskep om as groep die monument te gaan besoek.

Een van die tema’s wat vervat word in Geskiedenis handel juis oor die monument, en presies daaroor is die opgewondenheid al vroeg in die jaar gekweek toe hulle hoor dat die uitstappie oppad is.  Van ons leerlinge was al by die monument, maar vir die meeste van hulle was dit ‘n hele nuwe belewenis.

Op die oggend van die 9de April 2019 het die leerlinge sommer al voor die skool begin hulle tasse in my klas gebêre.  Min-wetend dat hulle ongelukkig eers die eerste periode van die dag moet loop. Gelukkig was dit Bybelonderrig, en dit is presies wat ons nodig het vir ‘n groot dag soos hierdie – die versekering dat God ons lief het, en dat Hy ons beskerm, maak nie saak wat nie.

C:\Users\Winsor\Desktop\IMG_1571.JPG

Na die eerste periode verby was, was die leerlinge al gereed om te gaan, daar is nou nie meer tyd om te wag nie.  Daar gekom, het tannie Mariaan ons vriendelik kom groet, en ons die geleentheid gegee om gou bene te strek en ons breine gereed te kry vir al die interessanthede wat ons vandag gaan leer.

C:\Users\Winsor\Desktop\IMG_1580.JPG

Sommer dadelik leer ons van al die simboliese betekenisse in en rondom die monument.  Die 64 ossewaens rondom die Voortrekkermonument wat hom beskerm, die betekenis van elke Voortrekkerleier op die vier hoeke van die monument, selfs die Onbekende leier.  Tannie Mariaan was baie opgewonde toe ons reeds so baie van die monument geweet het. Ons kon klaar vir Tannie Mariaan vertel wie Gerhard Moerdijk was, hoe lank die geneem het om die monument te bou, wat agter die hoeksteen toegemessel is en waaruit die monument gebou is.

Nadat ons klaar in die Heldesaal was, het ons ondertoe beweeg na die Senotaaf, en daarna na die museum waar ons kon sien hoe die Voortrekkers lank gelede geleef het.  Ons kon sien hoe hulle klere gelyk het, die ossewaens en natuurlik die bekende Grietjie – die kanon wat betrokke was met die Slag van Bloedrivier. Hoe wonderlik is dit nie om te sien hoe mense lank terug kon leef met so min nie.  

Na die toer het tannie Mariaan ons gegroet, en gekomplimenteer op ons goeie maniere, en dat ons asseblief so gou as moontlik weer moet teruggkom, sommer saam met ons hele skool.  Hierna was daar natuurlik net een ding oor om te doen, en dit is EET! Dadelik het ons na die winkeltjie toe gegaan, gaan sit en kosblikke uitgehaal. Sommiges het lekker hamburgers gekoop, en ander   weer lekker geroosterde broodjies met ham en kaas. Meneer Charles en juffrou Chrisna het natuurlik ook lekker geëet aan die kos wat hulle bestel het.

C:\Users\Winsor\Desktop\IMG_1637.JPG

Magies vol ogies toe? Nee, daar was natuurlik ‘n stop wat gou gemaak moes word by die geskenkwinkel, en daarna die Afrikaanse boekwinkel.  Oppad na die Afrikaanse boekwinkel, het ‘n groepie toeriste ons gekomplimenteer oor hoe mooi ons skoolklere lyk en hoe pragtig ons Ratels lyk.  Ons is mos trotse Ratels, inderdaad!



C:\Users\Winsor\Desktop\IMG_1628.JPG

Binne die boekwinkel is daar weer ander interessante stories oor die Anglo-Boereoorlog, maar ons sal ‘n volgende keer meer tyd maak om hier binne bietjie tyd te spandeer.  So neem ons nog ‘n laaste paar foto’s en daar vertrek ons weer terug skool toe.

Dankie Voortrekkermonument, dat ons so baie kon leer!  Ons sien julle sommer gou-gou weer!