Ons boogskutters is provinsiale kampioene!

Ons provinsiale kampioene: Laerskool Raslouw se boogskietspan met hulle goue medaljes.

Hier in 2016 begin Hoërskool Raslouw se kinders daarvoor vra: Hoekom kan ons nie boogskiet doen by die skool nie? Boogkiet? By die skool? Dit is mos heeltemal onmoontlik! Wel, so paar eposse later is eers toerusting by NASP SA geleen en later het ons skool sy eie toerusting aangekoop. Teen April 2017 neem ons aan ons eerste kompetisies deel en dit gaan beroerd! Die kinders huil, die punte is maar onder op die lys… Maar ons druk deur!

Vandag is Laerskool Raslouw die kampioenboogskutters in Noord-Gauteng! Hoërskool Raslouw is nie ver agter nie, hulle het die afgelope Saterdag by NASP Noord-Gauteng se provinsiale kampioenskappe weggestap met die bronsmedaljes en die beste tyd moontlik gekies om Hoërskool Eldoraigne uiteindelik uit die derde posisie te stamp. Ons is sommer baie trots op altwee hierdie spanne!

Wat hierdie prestasie merkwaardig maak is dat sewe van die twaalf laerskoolskuts en ses van die twaalf hoërskoolskuts, ń persoonlike beste telling tydens die kompetisie behaal het. Hulle het beslis die dag met die regte ingesteldheid aangepak!

Charnie Theron (graad 7) is boonop gekroon as die tweede beste laerskoolskut in die individuele afdeling – self ń prestasie waarop sy en die skool besonder trots is!

Nou ja, nou lê die harde werk voor om voor te berei vir die nasionale kampioenskappe teen die einde van September. Nou is ons sommer baie lus vir die groot verhoog!

Hoërskool Raslouw se boogskietspan het self uitstekend gevaar en die bronsmedaljes gewen by NASP Noord-Gauteng se provinsiale kampioenskap.