Grendeltyd – Hoërskool en Laerskool Raslouw het nie tot stilstand gekom nie!

15 Maart 2020. Die nuus is oral, pres. Cyril Ramaphosa wil die land toespreek. Die afgespreekte tyd kom en gaan maar uiteindelik is hy op die lug: Suid-Afrika se skole moet sluit! Dit gee nogal ń geskarrel af, toetsreekse is nog nie voltooi nie, rapporte moet afgehandel word en wat nog alles! Agt dae later kom die aankondiging: Ons almal moet vir drie weke in ons huise bly.

Ons is gereed vir die dag se werk!

Gelukkig is dit nou amptelik vakansie, maar wat van ons skoolverlaters wat einde van die jaar gereed moet wees? Wat van die graad 7s wat gereed moet kom vir hoërskool? Ons graad 1s wat nog leer lees en skryf? Sjoe, iets moet gedoen word!

Hoërskool en Laerskool Raslouw het in 2014 die besluit geneem om Google se GSuite for Education aan te neem. Dit was nogal ń groot sprong, veral met die wêreld, en veral Suid-Afrika, se verknogtheid aan die bekende rekenaarprodukte. Die grootste rede hiervoor was dat dit Google Classroom ingesluit het. Hoërskool Raslouw gebruik dan ook Google Classroom sedert dit vrygestel is.

Juffrou is in my kamer, sommer met ń bietjie hulp 🙂

Oor die jare het ons dit gesien groei, groter word, meer funksies kry en ons het daarmee saam gegroei. In 2017 pas ons die manier hoe Classroom werk ń bietjie aan en gee ons laerskoolouers toegang daarna sodat hulle kan sien waarmee hulle kinders besig is. Die kinders het natuurlik die geleentheid gesien en al meer hulle dagboeke eenkant geskuif en eerder Classroom gebruik.

In Hoërskool Raslouw is ons wiskunde-onderwyser se man na Kaapstad verplaas en, noodgedwonge, is wiskunde vir die hele 2019 per video vanuit die Kaap aangebied. Eintlik het ons voorberei vir die grendeltyd, ons het dit net nie geweet nie!

“Juffrou, ek het ń vraag!”

Besluite is geneem, beplanning is gedoen, vergaderings (aanlyn) is gehou en opstellings uitgevoer. Binne drie dae was alles gereed vir die laerskool om te begin. Die hoërskool was mos reeds gereed. Ons grootste vrees? Dat kinders nie gaan opdaag vir klas nie! Ons is steeds verbaas oor hoe mooi ons Ratels saamwerk en hoe graag hulle leer. Wat ń mooi voorbeeld!

Binne GSuite maak ons staat op twee produkte: Classroom en Hangouts Meet. Beide is veilig om te gebruik, onder die onderwyser se beheer en so leer ons kinders in ń veilige omgewing. Die doelwit is nie om die skooldag te repliseer nie, dit is om die kinders in oefening te laat bly totdat ons mekaar weer sien. Wel, ons doen nuwe werk ook! Opdragte kan aanlyn gedoen word (byvoorbeeld deur Google Forms te gebruik) of in die kind se skrif. Die werk word geskandeer, ingehandig in Google Classroom en aanlyn deur die onderwyser gemerk. Die wêreld is skielik baie klein!

Classroom maak alles maklik en hou alles byderhand!