Covid-19: Wat lê voor in die tweede helfte van 2021?

Dit is nog net so bietjie meer as ń maand, dan is ons land reeds 500 dae amptelik op verskillende vlakke van inperking. In hierdie tyd het enorm traumatiese dinge afgespeel: Geliefdes wat oorlede is, mense wat ernstig siek geword het, natuurlik ook mense wat hulle werk verloor het of ernstige finansiële druk ervaar. Oor die algemeen voel ons almal die tye ons benoud maak en dié benoudheid speel ook af op ons kinders.

Sedert die eerste ernstige inperkings het ons dit gehoor: Ons kinders mis soveel dinge in hulle lewe! Dink net aan die arme matrieks: geen laaste rugbywedstryd nie, ń afgewaterde matriekafskeid moet maar genoeg wees, ernstige druk op hulle finale eksamen is die norm. Net so tref dit die jonger kinders ook, hulle moet mos heeldag met ń masker loop en vele ouers moes die gesprek hê dat daar hierdie jaar geen verjaarsdagpartytjie sal wees nie. Sportbyeenkomste en sommer net lekker met my maatjies speel het skaars geword. Ons ken almal die storie…

Tans begin ons land se inentingsprogram uiteindelik momentum opbou en baie van ons sien uit na die dag wat ons ń prik in ons boarm kan voel. Nie net is dit goed vir my eie gesondheid nie, dit help ook om my buurman en kinders – die wat nog nie ingeënt is nie – te beskerm. En tog voel ons dit, hierdie vlaag is beslis nog nie die einde nie.

Ons as ouers het reeds die verantwoordelikheid opgeneem, maar het ook die geleentheid, om ons kinders ń paar dinge te leer:

  • Ek is verantwoordelik vir myself. Ja, ek moet besluite neem om myself gesond te hou.
  • Ek is verantwoordelik vir die mense om my. My besluite het ń invloed op die mense rondom my en my besluite kan ander mense se lewens in gevaar stel. Natuurlik kan ons ook besluite neem wat die mense om ons se lewe makliker en beter maak, dit is waarop ons moet fokus!
  • Ek kan vreugde ervaar, selfs in die donkerste tye. Die lewe is nooit maklik nie, maak nie saak wie jy is nie. Daar is gereeld dinge wat seermaak en wat ons aftrek en dit kan ons moedeloos en ongelukkig maak. Die wedergebore kind van God besit iets anders as geluk: Vreugde! Vreugde is om te weet dat God ons gekies het om Sy kinders te wees, ons moet nou so leef.

As elke Ratel-familie die voorbeeld stel deur nie te kyk na dit wat ons mis nie maar te fokus op dit wat ons moet doen, dink net waar gaan ons uit kom! Ja, 2021 gaan nog uitdagings hê, dit is verseker. Saam, gelowig, kom ons ook in 2022 uit en pak ons weer daardie uitdagings saam aan.

In praktyk beteken dit dat ons steeds planne maak by die skool maar ons planne oorlaat aan dit wat die Hemelse Vader reeds vir ons bepaal het. Soms gaan van ons planne gekanselleer moet word, ander kere gaan ons nuwe dinge probeer. As ons almal ons werk doen, dit wat die Here van ons vra, dan sal Hy die werk vir ons seën met die goedheid wat net van Hom kan kom.

Dit is die Here wat Jerusalem weer opbou, wat die verstrooides van Israel weer bymekaarbring. Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde.

Psalm 147: 2, 3