Ratels hou Lenteweek!

Kyk, as die Ratels iets doen, dan doen ons dit behoorlik! 2021 se Lenteweek, want ń Lentedag is beslis nie genoeg nie, het heerlik verloop. In goeie Ratel-styl was een dag se feesvieringe beslis nie genoeg nie, ons moes dit sommer oor ń paar dae strek.

Ons laerskool het op Woensdag 1 September begin met hulle feesvierings. Daar is voor ń gehoor geoefen en voorbereide items wat tydens die komende Centurion Kunstefees gelewer moet word, is voor die hele skool opgevoer. Toe hou ons lekker piekniek – en was dit nie lekker om weer in die heerlike sonnetjie op ons sportveld te sit nie? Dieter en Paula, ons twee poppekasmaats, het kom kuier en toe het ons lekker gaan lees.

Die volgende dag het ons begin opgewonde raak oor die naweek se planne en toe sommer ń paar bome geplant – witkarree het juffrou Erika gesê. Ongelukkig moet ń mens nogal geduldig wees, dit vat nogal lank vir bome om lekker skaduwee te maak – maar ons het begin.

Vrydag het ons hoërskool ingespring en ń lekker fees gehou met speletjies en pret. Die wateremmer was beslis die gewildste, veral as ń paar onnies onder die emmer sit! Dan gooi ons daardie bal sommer baie meer akkuraat.

En toe breek Saterdag aan… Die groot tuinmaakdag. ń Hele klomp ouers en kinders, hoërskoolstudente en onnies daag op en begin te werk. Teen Saterdagmiddag, nadat ń paar stukke wors gaar geword het, lyk ons skool se tuin sommer spoggerig.

Sjoe, wat ń week. Baie dankie aan almal wat bygedra en gewerk het, ons kinders is die moeite werd!

Kliek gerus op hierdie skakel om nog meer foto’s, ook hoë resolusiefoto’s, van die week te kry.

https://photos.app.goo.gl/Lhvajrp3CThNzeBC6