Ontmoet ons studenteraad: Alexander Grobler

Alexander in die veld – daar waar hy op sy gemaklikste is!

Sommige mense word gebore om leiers te wees, gebore om uit te staan…

Alexander Grobler is net so ‘n persoon en daarom die natuurlike keuse vir Hoërskool Raslouw se heel eerste hoofseun. Maar, wie is die seun agter die charismatiese persoonlikheid?

Alexander is passievol oor mense en hul welsyn. Agter die onverskillige uiterlike is daar ‘n sagte hart, wat graag almal om hom gelukkig wil sien. Dit is dan nie verbasend dat sy mede-studente nie huiwer om hom om raad te vra nie. Sy trotse geaardheid maak dat hy nie net ander wil lei nie maar ook die voorbeeld stel – as voorbeeld is sy algemene netheid ‘n uitstaande kenmerk van sy menswees.

Hy het sy passie vir jag en boogskiet aangewend om mnr. Pieter te oortuig dat die skool net kan baat by boogskiet as ‘n aktiwiteit. Vandag is boogskiet uiters gewild in beide die Hoër- en Laerskool, met studente wat ver bo verwagting presteer. Alexander het dan ook onlangs die afrigterskursus voltooi, sodat hy met verantwoordelikheid ander entoesiaste kan afrig. Alexander droom groot. Nadat hy Cambridge AS Levels voltooi het beplan hy om in Amerika te gaan studeer terwyl hy deeltyds op ‘n ranch werk.