Die eksamen begin! Wel, Cambridge se eksamen…

Voor die eksamen: Ons is hier, ons is gereed, ons sal poseer vir ‘n foto!

In 2015 het Hoërskool Raslouw begin met ‘n belofte: oor drie jaar skryf ons die eerste Cambridge-eksamen. Wel, die tyd het aangebreek en ons huidige graad 10-klas het gister hulle eerste amptelike Cambridge-vraestel geskryf. Die vraestel was Afrikaans Huistaal: Reading and Directive Writing. Onthou, die titel van die vraestel mag vir ons snaaks lyk, maar dit is ‘n internasionale stelsel wat in Engels aangebied word, dus word selfs ‘n vak soos Afrikaans in Engelse administrasie omvou.

Omdat elke student ‘n ander pad het tot by sy uiteindelike skoolverlating (wat ‘n matrieksertifikaat insluit) skryf nie almal hierdie keer elke vak nie – hulle is immers nog in graad 10! Die vyf wat gister die eksamen geskryf het was egter aangenaam verras met hoe goed hulle voorbereid was en is vol vertroue dat hulle goeie punte gaan behaal. Ongelukkig neem hierdie uitslae tyd en sal eers in Februarie 2018 beskikbaar wees.

Nou werk hulle hard aan die volgende vraestelle – sommer so in die skoolvakansie! Die volgende paar weke is vol studietyd, opsommings, ou vraestelle uitwerk en wat nog alles. Baie sterkte daarmee!

Na die eksamen: Nou kan ons lekker ontspan!

Terloops: Die eksamens wat tans afgelê word vorm deel van die IGCSE-kursus. Dit staan vir International General Certificate of Secondary Education en kan selfs gebruik word om ‘n matrieksertifikaat te bekom, meestal dan wel sonder universiteitstoelating. Dit word by Hoërskool Raslouw oor drie jaar aangebied, van graad 8 tot 10.