Jaco de Waal – ons eie Einstein-Rockster!

Jaco ontvang een van vele toekennings by Hoërskool Raslouw se Prestige Aand.

Dit gebeur min in ‘n mens se lewe dat jy iemand ontmoet, ongeag sy ouderdom, wat jou sprakeloos laat van bewondering en inspirasie… Jaco de waal is een van daardie uitsonderlike mense.

Saam met Alexander, Arielle en Chané voltooi Jaco die hoofleier-viermanskap. Hierdie stil seun het geen bekendstelling nodig nie. Weet almal dan nie alreeds van Hoërskool Raslouw se eie Einstein rockster nie? Hoewel Jaco eers aan die einde van graad 9 deel van ons skool geword het, het hy in ‘n amper onbehoorlike kort tydjie diep spore in almal se lewens getrap. Sonder dat hy eers bewus is daarvan inspireer hy sy maats, sowel as sy onderwysers.

Jaco moet elke dag ernstige fisiese en mediese uitdagings die hoof bied. Wat vir ander studente alledaags is, is vir hom wesentlike struikelblokke. Tog sien hy dit nie so nie. Sy lewe is daar om voluit te ervaar en te beleef. (Van akademie, kultuur tot sport) Nooit sal jy hom negatief sien nie. Geleenthede is daar om gebruik te word. Jaco neem aan alles by die skool deel én dan ook nog aan sy eie buitemuurse belangstellings soos yshokkie. Daar is geen keer aan hom nie! Hy is die lewende bewys dat ‘n mens sy eie grense bepaal.

Jaco, heel links, spog saam met sy maats met sy prestasies!

Jaco, heel regs, as deel van ons viermanskap wat die heel eerste studenteraad van Hoërskool Raslouw uitmaak.