Phew, uiteindelik is die Cambridge-eksamen verby…

Ons graad 10-klas het hierdie jaar die heel eerste klas geword om ‘n amptelike Cambridge-eksamen te skryf. Vooraf was daar baie senuwees en opoffering: Die kinders moes al met hulle eksamen begin toe die res van die skool heerlik vakansie gehou het! Maar, was die jare se werk die moeite werd? Ons het Alexander Grobler, hoofseun van Hoërskool Raslouw, hieroor uitgevra:

Julle was die eerste groep van Hoërskool Raslouw om ‘n amptelike Cambridge-eksamen te skryf. Hoe het julle gevoel voor julle begin skryf het?

Ek dink ons was bang, oorweldig, moeg maar meeste van alles dink ek ons het reg gevoel vir hierdie eksamen. Ons het gevoel dat ons al lank genoeg hard gewerk het hiervoor.

Hoe werk die proses? Veral omdat julle nie by ons skool die eksamen skryf nie.

Jy kry al ‘n maand of twee voor die tyd jou eksamenrooster. Daar is twee eksamensessies per dag, die een van 10:00 tot 12:00 en die ander sessie is 14:00 tot 16:00. Party van die vraestelle is langer en party korter as twee ure.

Jy moet ‘n halfuur voor jy skryf by die eksamengebou wees waar jy na ‘n studieklas beweeg of buite rond kan wees vir die laaste twintig minute voor jy skryf. Jy kry verskillende klasse in die gebou en daar is ‘n papier buite die studieklas wat aandui waar jy moet sit. Tien minute voor die eksamen begin moet jy op jou plek wees.

Dan begin die sports! Daar kom ‘n toesighouer in met die vraestelle, nog toe in sakkies. Die reëls word elke keer volledig herhaal terwyl die vraestelle uitgedeel word. Die reëls is eenvoudig: Jy mag nie die eksamenlokaal binne die eerste uur verlaat nie, ook nie tydens die laaste halfuur nie – sulke goed.

Daar is permanent iemand wat toesig hou oor almal en hulle mag geen van jou vrae antwoord as dit oor die vraestel gaan nie. Die enigste reaksie wat ‘n mens kry is as jy moet badkamer toe gaan…

Hoe het jy gevoel tussen al die ander studente wat ook eksamen skryf?

Meeste van die studente wat saam met ons geskryf het was ouer as ons en party het ander vraestelle geskryf. Ek was heel gemaklik en het gevoel asof ek my werk beter ken as sommiges van hulle. Hulle het my glad nie gepla of ongemaklik gemaak nie. Ons was wel van die min studente wat skoolklere aangehad het!

Hoe het jy dit ervaar? Was die vraestelle moeilik of maklik?

Ek dink ons het baie goed voorberei en het min of meer geweet wat voorlê. Daar was sommige vraestelle wat moeiliker was as wat ek verwag het en ander was weer makliker. Dit was niks wat ek nie kon doen nie en ek is seker dit was vir die res ook so gewees. Gelukkig werk Cambridge met Thresholds vir simbole, dus het ek die voordeel dat ek presies weet wat my punt vir die vraestel was, maar die simbool wat toegeken word sal ook vir my die waarde van die punt aandui. ‘n Moeilike vraestel kry by Cambridge ‘n hoër simbool vir dieselfde punt as ‘n maklike vraestel.

Julle het vroeg begin en toe vir twee weke nie eksamen geskryf nie. Van julle eerste vraestel tot die laaste was ‘n volle vyf weke. Is dit moeilik om jou konsentrasie en motivering te behou deur so ‘n lang eksamen?

Ek dink soos ons ouer  geword het, het sommiges van ons begin agterkom wanneer om te leer en hoe om jou konsentrasie so lank te hou. Meeste van my klasmaats het voor my klaar gemaak en ek dink dit het my begin pla. Steeds het ek geleer en nie opgegee nie. Dit was vir my ‘n baie lekker eksamen, beter as enige interne eksamens by die skool. Die punt is dat ons oud genoeg en volwasse genoeg was om die leer as lekker te ervaar – wel meeste van ons! Ons het al drie jaar voorberei vir die eksamen, ons voorbereiding was dus sterker as ons vrees!

Soms het julle een vraestel in die oggend geskryf en dan weer een in die middag. Hoe berei ‘n mens voor vir so ‘n situasie?

Die lekker ding was dat ons al die datums baie vroeg gehad het en dus kon sien as ons een sessie in die oggend skryf en een in die middag. Ons eksamenroosters was so uitgewerk dat daar meer as genoeg tyd was het om voor te berei. Maar ons het verseker vroeg gaan slaap na so ‘n dag!

Noudat jy klaar is en wag vir die uitslae, was dit die moeite werd?

Ja verseker! Na drie  jaar van lag, huil, speel en ‘n hele paar ander goed was dit verseker die moeite werd gewees. Ek is trots op myself en verseker op die res van my klas!

As jy een stukkie raad kan gee vir die studente kan gee wat in die toekoms hierdie eksamen gaan skryf, wat sou dit wees?

Let op in die klasse en luister na wat gesê word en jy sal 100% okay wees. Leer hard en geniet dit net.

Jy het nou twee maande vakansie. Wat gaan jy doen?

Ek beplan om die eerste maand ‘n werk te kry by Hokaai-slaghuis en dan ry ons die 15de Desember met vakansie.