Ons neem afskeid van ons heel eerste skoolverlater…


Verlede week het ons afskeid geneem van Benjamin Foster, ons heel eerste skoolverlater by Hoërskool Raslouw. Benjamin het hom in 2016 by Hoërskool Raslouw aangesluit en het vinnig geliefd geraak in die skool met sy aweregse opmerkings en skewe humor! ń Karakter word nie gebou deur saam met die stroom te vloei nie maar juis deur uit te staan en dan ook nie terug te staan wanneer jy ander ongemaklik laat nie.

So ń karakter was Benjamin in Hoërskool Raslouw: Soms was die mense rondom hom kwaad vir hom, soms verbaas en meestal net stom geslaan! Maar Benjamin was vry om Benjamin te wees en daarom gaan almal van ons hom mis…

Benjamin het in 2017 reeds ń paar vakke in Cambridge se IGCSE-eksamen geskryf en voltooi nou in Mei 2018 hierdie kwalifikasie. Met hierdie kwalifikasie behaal hy ń matrieksertifikaat sonder universiteitsvrystelling en gaan hy nou verdere opleiding ondergaan tot hy hopelik in 2019 die werksmag sal betree.

Baie sterkte Benjamin! Kom loer tog gereeld in by ons…