Pendoring (Edms) Bpk – so ń doring van ń toneelstuk!

“In 2018”, sê juffrou Patricia verlede jaar, “gaan Hoërskool Raslouw aan die ATKV se toneelkompetisie deelneem!”

Sjoe, dit was sekerlik net grootpraat… Maar toe kom sy eendag by haar tafel en daar lê ń paar kopieë van Pendoring (Edms) Bpk, ń hoorspel op haar tafel. Verwonderd tel sy dit op terwyl sy tog probeer dink wie dit op haar tafel gesit het. Sy lees… en sowaar, sy begin te giggel! Die hoorspel is vrek snaaks en sal gemaklik omgeskakel kan word in ń verhoogstuk. Die opvoeringsregte is aangekoop, reëlings is getref en siedaar! Hoërskool Raslouw se heel eerste toneelproduksie is op die planke!

Geskryf deur Ampie van Straten het Pendoring (Edms) Bpk radiogehore behoorlik bekoor – dit is nou so paar dekades gelede! Gert Klopper is ń woordkunstenaar van formaat maar, helaas, heeltemal in vervoering met sy eie opinies oor taal, natuurlik meestal die Afrikaanse taal! Arme Sarie, sy assistent, probeer alles wat sy kan maar om Gert se oog te vang is nie maklik nie! Tot sy dit regkry om twee sinne in een woord saam te vat…

Die toneelstuk is op 18 Julie 2018, eintlik as kleedrepetisie, die eerste keer by die Centurion Teater opgevoer. Daar word nog ń paar opvoerings beplan maar die eintlike doelwit is die ATKV Toneelkompetisie wat teen die einde van Augustus 2018 plaasvind.

Hou hierdie spasie dop, hier kom ń ding!