Hier is hy, Hoërskool Raslouw se nuwe hoofseun!

Hoërskool Raslouw se studenteraad vir 2019 is onlangs aangewys, maar wie is die studente? Hier is die eerste van die bekendstellings.


ń Heelwat meer volwasse Pieter lewer ń toespraak om sy aanwysing as hoofseun te aanvaar.
Pieter as redenaar tydens se laerskooldae.

Pieter van der Dussen, ons splinter- nuwe hoofseun, het al diep spore in beide Laerskool Raslouw en Hoërskool Raslouw getrap. Hy is reeds sedert 2006 in Laerskool Raslouw toe hy as kleuter by die skool ingeskakel het.

Deur die jare het hy so in die skool groot geword en saam met die skool ontwikkel. Sy liefde vir die natuurwetenskappe kom ook al ń lang pad en vandag noem hy drie vakke as sy gunsteling: Chemie, Fisika en Biologie.

Pieter het deur sy skoolloopbaan graag aan ons interne redenaarskompetisies deelgeneem en ook goed daar presteer! Dit het hom goed voorberei op sy rol as hoofseun en ook bygedra tot sy aanwysing in die hoofrol van Pendoring (Edms) Bpk, ń drama wat die jaar by die ATKV se Tienertoneelkompetisie opgevoer is. Verder skiet hy graag boog en maak hy en juf Lindi lekker saam musiek as hy sy tenoorfluit uithaal.

Pieter is tans besig met die skryf van Cambridge se International General Certificate of Secondary Education (IGCSE)-eksamen maar het vroeër die jaar reeds drie van sy vakke in die kwalifikasie afgehandel. Toe het hy een A, ń B en ń C-simbool behaal en hy hoop om die keer nog ń paar goeie simbole hierby te voeg. Sy volgende mikpunt is om Cambridge se Advanced Subsidiary-kwalifikasie te behaal waarna hy in ń farmakologiese rigting (let wel: nie aptekerswese nie) wil studeer.

Met Pieter se innemende geaardheid, leergierigheid en positiewe betrokkenheid by alle skoolaangeleenthede, is hy ń natuurlike leier wat sy mede-studente verenig in ń gemeenskaplike doelwit. Werk hard, wees deel van die skool, maak hierdie tyd die lekkerste tyd van jou lewe!

In sy eie woorde, uit sy aanvaardingstoespraak:

By al die voorafgaande woorde wil ek nou aan sluit deur te sê dat dit nou ons verantwoordelikheid is om ‘n gedeelte van daardie swaar werk van die juffrouens se rûe af te haal. Buiten dit is dit nou ook ons verantwoordelikheid om die lewe, net soos almal dit vir my lekker gemaak het, vir almal om ons lekker te maak.

Ons sien uit na die volgende jaar!