Chané Basson: Ons hoofmeisie vir 2019

Chané Basson het geen bekendstelling nodig nie! Hoërskool Raslouw se nuwe hoofmeisie vir 2019 het alreeds gedurende 2018 haar staal gewys as leier (kliek hier om meer oor haar vorige amp te lees). Met haar sagte geaardheid neem sy nietemin ferm beheer van haar amp as hoofmeisie. Sy is ‘n sprekende voorbeeld van deur te dien, word daar gelei. Chané is nie net ‘n uiters talentvolle dogter nie, maar haar deursettingsvermoë in alle situasies is merkwaardig.

Chané gesels só oor Hoërskool Raslouw: “Ek het by die skool begin as ‘n bang ou Graad 8’ie, wat self nog haar voete moes vind. Deur die jare het ek die voorreg gehad om aan myself te kan bou, en te kan groei as mens, saam met ‘n ongelooflike groep leerders en ‘n ongelooflike groep onderwysers. Kultuur speel ’n baie groot rol in my lewe en hier kon ek die talent wat ek gekry het, uitleef en deel met die mense rondom my. Hoërskool Raslouw is die  plek waar ek geleer het dat jy niemand anders hoef te wees as net jouself nie.”

Na skool wil Chané graag in ń mediesverwante rigting studeer – dalk iets soos Arbeidsterapie. Gelukkig is daar darem nog ń paar maande om dit alles uit te werk…

Laastens ken ons almal al Chané se sangstem. Hier is sy met Roxette se Must have been love – duidelik kan sy sing!