Cambridge eksamens – ons raak nou gewoond daaraan!

Nog ń skooljaar het in 2018 verby gesnel en dit beteken dat ons daar nog ń reeks Cambridge-eksamens verby is. Uiteindelik is die uitslae uitgereik en nog ń keer het ons skool se kinders goeie prestasies behaal! Baie geluk aan elke student wat hard gewerk het om hulle simbole te verbeter en dit reg gekry het!

Daar is twee studente wat ń bietjie ekstra aandag verdien:

Pieter en juf Riekie is sommer baie trots op sy mooi uitslae!

Pieter van der Dussen is nie net 2019 se hoofseun nie, hy het besonder goed in sy eksamens gevaar. Pieter het nege vakke in Cambridge se International General Certificate of Secondary Education (IGCSE) geskryf en op die end behaal hy een A*-simbool (Fisika) en nog drie A simbole (Wiskunde, Chemie en Rekenaarwetenskap). Sy ander vakke het ook goed afgeloop maar die vier gaan hom sommer ń besondere hupstoot gee in die loopbaan wat hy beplan. Behalwe vir die onderskeidingsvakke, het Pieter ook nog ń paar B-simbole behaal. Aangesien ons studente Engels op Eerste Taal-vlak doen is die B-simbool wat hy daar behaal het ook ń besondere prestasie. Hy wil dit egter nog bietjie verbeter in die toekoms.

Pieter gaan nou voort met Cambridge se AS en A Level studies waarmee hy universiteitstoelating wil behaal. Hy beplan om in ń farmakologiese rigting te studeer en op die ou end te spesialiseer in medisinale navorsing. Ons weet al hierdie groot planne sal waar word!


Kayla werk reeds as ontvangsdame by ń plaaslike onderneming en hier wys sy trots haar puntestaat vir juf Patricia.

Kayla Haarhoff het ook Cambridge se IGCSE-eksamen geskryf en so mooi presteer dat sy nou reeds skool verlaat het, ń werk het en blinkoog die toekoms in gaan.

ń Cambridge IGCSE-sertifikaat beteken dat aansoek gedoen kan word vir ń Nasionale Senior Sertifikaat (matriek) en Kayla gebruik nou die opsie om die res van haar lewe aan te pak. Dit maak haar ons tweede suksesvolle skoolverlater. Baie geluk Kayla! Sien, al die gestoei oor baie jare was op die ou end die moeite werd. Deurdruk en vasbyt – soos jy gemaak het – is die sleutel tot sukses!

2019 het pas begin en reeds berei ons voor vir die eindjaareksamens. Hierdie jaar skryf ons studente nie net IGCSE nie, ons eerste AS en A Level studente gaan ook wys waartoe hulle instaat is. Ons sien uit na die uitdaging!