IGCSE? AS Level? Wat beteken dit tog als vir my toekoms?

In ons skole hoor ons die terme gereeld en ons is trots op ons studente wat eksamen skryf en soms werklik uitstaande presteer. Tog is die terme vreemd vir ons en wonder ons eintlik maar wat dit vir my kind se toekoms sal beteken.

Eerstens: Cambridge Assessment International Education se kwalifikasies is werklik uitstaande! Die basis waarop hulle kurrikulum werk, word afgekort as KICA: Knowledge, Innovation, Communication and Analysis. Die vier konsepte word regdeur die hele vakaanbieding in gebou en maak studente gereed vir die wêreld daarbuite.

Daarby word Cambridge se kwalifikasies amptelik in Suid-Afrika erken en bied toegang tot enige tersiêre studie, indien dit benodig word. Kom ons kyk gou hoe dit werk:

IGCSE

Eksamentyd is maar stresvol, daarom maak ons seker daar is genoeg tyd om lekker te ontspan. Twee vraestelle op een dag? ń Pizza saam met maats is net die regte medisyne!

IGCSE is kort vir International General Certificate of Secondary Education – voorwaar ń mondvol! Mense wat bekend is met die skoolstelsel in die Verenigde Koninkryk (Brittanje), sal hierdie herken: Daar verlaat meeste studente skool met die sogenaamde GCSE – nou net sonder die International.

Hoërskool Raslouw se studente begin hulle hoërskoolloopbaan deur hierdie sillabus te bestudeer. Dit is ń meerjarige kursus en word by ons van graad 8 tot 10 aangebied. Hier is dit waar dinge so bietjie moeilik raak!

IGCSE is ń skoolverlatingskwalifikasie maar bied nie universiteitstoelating nie. Wel, onder sekere omstandighede wel, maar kom ons laat dit nou daar. Waarom dit dan doen? Nie almal gaan universiteit toe nie en IGCSE bied wel toegang na verskillende kolleges soos OpenWindow en Centurion Akademie, waar ons wel tans oudstudente het. Anders is dit baie goeie voorbereiding vir die AS Level-studie wat volg.

Studente wat nie AS Level benodig nie kies gewoonlik om dan met IGCSE voort te gaan in graad 11 en dan aan die einde van graad 11 uit die skool te gaan met ń uitstekende “matriek”, maar as die student hard werk mag dit reeds teen die einde van graad 10 moontlik wees.

AS Level

Volgens die ooreenkoms tussen Cambridge en die Matrikulasieraad, word AS Level gereken op dieselfde vlak as Matriek met universiteitstoelating. AS staan vir Advanced Subsidiary, dus is dit duidelik dat daar iets anders ook is: Die sogenaamde Advanced Levels. Advanced Levels word gereken as ń dertiende skooljaar en is baie algemeen in die noordelike halfrond – al het dit ander name, soos Abitur in Duitsland.

AS Level is letterlik ń halwe A Level en as ń student kies om ń vak op A Level te neem, skryf hy/sy al die AS Level vraestelle met ń paar ekstra vraestelle. Dit is dus nie snaaks om tot vyf of ses vraestelle vir een A Level-vak te skryf nie.

Meeste van die studente by Hoërskool Raslouw kies om net in besondere omstandighede vakke op A Level te neem, hulle volstaan met AS Level. Daar is dan ook ń hele paar van ons oud-studente wat ingeskryf is by verskillende universiteite deur AS Level te voltooi: Universiteit van Pretoria, NWU, Unisa en ander – almal sonder om te sukkel!

Wat nou van grade?

Aan die begin van die graad 10-jaar het elke ouerpaar en student ń lekker lang bespreking met die hoërskoolpersoneel. Tydens die bespreking word besluite geneem oor hoe die student se pad na skoolverlating verloop en dan begin die begrip van grade eintlik so bietjie verval – juis omdat ons studente se “matriekjaar” in verskillende grade mag wees.

Die aanpasbaarheid van die Cambridge-kurrikulum is soms moeilik om onder die knie te kry, maar dit maak voorsiening vir elke kind – geen drukgang omdat dit maar is hoe die proses loop en hoe ons daaraan gewoond is nie. Elke student is en bly ń individu!

Wil jy graag meer weet? Kontak ons gerus – kliek net op hierdie skakel.