Die storie van die appelboom

Tydens die afgelope matriekafskeidsfunksie het die vier skoolverlaters ń snaakse ding gedoen: Hulle het ń appelboom geplant, ń Golden Delicious-boom, om meer presies te wees. Nou hoekom ń appelboom? Hulle versoek aan toekomstige matriekklasse is om elkeen ń ander vrugteboom op die boom in te ent. Oor tien of vyftien jaar het ons dan ń multivrug-boom!

Hoekom so ń boom? By Hoërskool Raslouw is elkeen van ons belangrik, elkeen het sy eie individuele plekkie in die skool. Elke student word ook aangemoedig om sy eie persoonlikheid te vorm en hom of haarself hiervolgens die kan verantwoord. Onthou, ons bou ons dissipline juis op ń basis van persoonlike verantwoordelikheid.

As ons egter as individu groei, bly ons as groep geanker in ons saamwees, ons nuuskierigheid en veral ons geloof. As individu ag ons steeds onsself deel van iets groter as onsself en streef na samehorigheid terwyl selfsug afgeleer word. Net so met die boom: Die verskillende soorte vrugte kan net groei as almal die water en minerale deel wat van die hoofstam af kom, en almal ook bydra in die voeding en onderhoud van die hoofstam en wortels.

Ons sien uit na ń volwasse boom in volle vrug, net soos ons studente!

NS: Watter vrugtebome kan alles op die bome ingeënt word? Wel, appels is uit die roosfamilie (ja, regtig!). Solank die ander bome ook uit die familie kom en dinge word reg gedoen, sal ń hele paar vrugtesoorte op die boom kan groei: perskes, pere, amandels, kwepers, appelkose, pruime ens. Dan het ons nog nie eens die verskillende variëteite genoem nie. Logika sê egter dat ń boom net soveel keer verdeel kan word voor dit ook nie meer lekker gaan wees nie.