Eers doen hulle dit met IGCSE, nou ook met AS Level!

So paar jaar gelede het Pieter van der Dussen en Jayden Coetzee hulle ding begin doen, hulle het Cambridge se International General Certificate of Secondary Education (IGCSE) geskryf, goed presteer en daardeur eintlik reeds matriek verwerf. Vir die twee was dit egter nie genoeg nie, hulle wil beter gekwalifiseerd wees, en doen toe AS Level. Cambridge se AS Level bied mos toegang tot Suid-Afrikaanse universiteite en daarom is die moeite mos, wel, die moeite werd!

By Hoërskool Raslouw doen ons die kwalifikasie oor twee jaar en in hulle tweede jaar tref Covid… Nou ja, ń mens gee nie moed op nie en die twee het aanhou werk! In Oktober en November 2020 is daar eksamen geskryf en vandag is die uitslae ontvang.

Nou is ons sommer baie trots op hulle: Vier onderskeidings is behaal! Pieter het onderskeiding in Afrikaans, Fisika en Chemie behaal en Jayden een in Afrikaans – voorwaar ń prestasie om op trots te wees en waarmee hulle die toekoms met selfvertroue kan aanpak.

Pieter is reeds by die Universiteit van Pretoria aanvaar vir B.Sc. Menslike Fisiologie, terwyl Jayden mik na ń kwalifikasie in Elektroniese Ingenieurswese, heel moontlik by Centurion Akademie. Ons Ratels weet dit sal goed gaan met hulle – want hulle is Rateltaai!