Ses studente, 18 onderskeidings!

Na verlede week se AS Level-uitslae het ons in spanning gewag op die IGCSE-uitslae – dit is tog amptelike Cambridge-eksamens wat geskryf is. Toe ons dit kry kon ons nie ons oë glo nie, ons stoutste verwagtings is oortref! Sedert graad 8 hou ons hierdie klas dop, maar vandag span die kroon op baie jare se harde werk: Ses studente, 18 onderskeidings en vyf van daardie onderskeidings was meer as 90%! Wat ń prestasie! Die van die studente het besonder goed presteer:

  • Sonnika van der Dussen behaal vier A’s (Geografie, Biologie, Chemie en Engels Eerste Taal) en nog twee A*-simbole (Fisika en Afrikaans Tweede Taal).
  • Ané de Ridder behaal vier A’s (Rekenaarwetenskap, Wiskunde, Fisika en Engels Eerste Taal) asook een A*-simbool (Afrikaans Tweede Taal).
  • Gwendoline Gourley behaal drie A’s (Omgewingsbestuur, Fisika en Engels Eerste Taal) asook een A*-simbool (Afrikaans Tweede Taal).

Calvin Amdur het ook ń A*-simbool vir Afrikaans Tweede Taal behaal terwyl Sacha-Lee Smith en Jayden Mouton elk ń A gekry het. Behalwe vir die goeie simbole is daar nog ń hele paar B en C-simbole waarvoor daar ook hard gewerk is. Die klas het sowaar gewys wat gedoen kan word as ń mens bereid is om te werk vir die doelwitte wat jy vir jouself stel.

Ané en Sonnika, onderskeidelik ons hoof- en onderhoofleier vir 2021, gaan nou die AS Level-kwalifikasie aanpak terwyl Gwendoline en Jayden skool verlaat, gereed om ń nuwe toekoms aan te pak. Beide oorweeg nog hulle opsies maar kwalifiseer om by enige kollege of tegniese universiteit aansoek te doen vir verdere studie. Calvin en Sacha-Lee sit hulle IGCSE-studies voort en gaan nog ń paar vakke aan die einde van 2021 skryf.

Baie geluk aan elkeen, die hele skool is saam trots op julle prestasie!