Rekenaars en selfone in die klas

Die gebruik van rekenaars en selfone in die klas is en bly ‘n moeilike saak. Studente het nie van kleins af geleer om verantwoordelik met die toestelle te werk nie en daarom is daar gereeld uitvalle waar veral selfone probleme in die klas veroorsaak. Ons sien egter nie die probleem as ‘n rede om alles te stop nie, ons gebruik hierdie geleentheid om hulle meer te leer om verantwoordelike volwassenes te word (kliek vir meer oor dissipline)!

Elke student en onderwyser by Hoërskool Raslouw het ‘n rekening op G Suite for Education (kliek vir meer), Google se gratis aanbieding vir skole. Dit sluit die volgende in:

  • Toegang tot Google Classroom – die enigste plek om al jou klas- en huiswerk bymekaar te hou,
  • ‘n Eposrekening met die uitgang @raslouwratels.net – dit werk presies net soos ‘n Gmail-rekening en dit is dus bekend en maklik om te gebruik.
  • Onbeperkte stoorspasie op Google Drive.
  • Onbeperkte gebruik van die nuutste weergawe van Google Docs, Google Sheets, Google Slides en vele ander.

Al die funksies is beskikbaar vir rekenaar, tablet en selfoon – dus gemaklik om enige plek te gebruik!

Watter toestelle word ondersteun?

Rekenaars

Enige rekenaar wat die Chrome-webleser kan loop. Daar is studente wat tans by ons is wat Windows XP gebruik – dus maak die ouderdom nie saak nie. ‘n Baie goeie opsie, indien die student nie Rekenaarwetenskap as vak neem nie, is Google se Chromebooks. Hulle is meestal van goeie gehalte, goed geprys en werk baie gemaklik in die klas.

Indien die student wel Rekenaarwetenskap as vak neem is ‘n Windows-gebaseerde rekenaar egter ‘n vereiste. Dit is nie nodig om ‘n duur rekenaar te koop nie, enige ouerige rekenaar is voldoende maar probeer wel voorsiening maak vir 4Gb RAM.

Tablette en selfone

Enige weergawe van Android of iOS (Apple) is aanvaarbaar, Google het toepassing (apps) beskikbaar op altwee platforms.

Indien jy steeds onseker is, onthou dat die onderwysers by die skool graag help en gereed is om vrae te antwoord!