Sport by Hoërskool Raslouw

Juf Elizna met haar wakker netbalspelers!

Sport is nie ‘n aktiwiteit wat ons het sodat ons kan spog nie, dit is integraal deel van wat ons doen. ‘n Student ontwikkel as volledige mens en sy liggaamlike, emosionele en sosiale vaardighede word alles ontwikkel deur sport. Tussen 14:00 en 15:00 elke dag speel en kuier ons lekker saam op die sportveld, maar steeds met dodelike erns!

Ons doen baie soorte sport:

  • Boogskiet
  • Rugby
  • Netbal
  • Krieket
  • Atletiek
  • Ringtennis

Soos die kinders se behoefte verander en die seisoene vorder, pas ons ons program aan en sorg so dat elke liewe kind die geleentheid kry om deel te neem en, waar moontlik, ook te presteer! Prestasie is nie die doelwit nie, maar prestasie moet beloon word!

Fielde het die eerste skut by Hoërskool Raslouw geword wat ‘n voltal van 50 punte met boogskiet behaal. Dit was wel by ‘n oefening, maar een van die dae doen sy dit by ‘n kompetisie ook!

Die sport waarmee ons baie kompeterend optree is boogskiet. Ons neem sedert die begin van 2017 deel onder die vaandel van die National Archery in Schools Programme (NASP) en het, met die hulp van ‘n paar skuts uit die laerskool, reeds begin medaljes wen! Ons individuele skuts se prestasies is dan ook stadig maar seker besig om te verbeter!

‘n Interessante feit: Volgens ‘n studie tydens die 2012 Olimpiese Spele in London, is dit net die marathon wat meer energie verbruik as boogskiet op die pad na ‘n goue medalje! Kliek gerus hier om meer uit te vind oor die voordele van boogskiet.

Ringtennis kry ook heelwat aandag en daar neem ons deel onder die vaandel van die Noord-Gauteng Ringtennisvereniging. Die oefening en wedstryde het al vir ‘n paar baie lekker oomblikke gesorg!

Ringtennis is ‘n eenvoudige maar vinnige en akkurate sport en dus ideaal om ‘n kind se menswees te ontwikkel!